MAL OOR MY MASKER
Ons almal moet ‘n masker dra
om die virus weg te hou;
‘n lapmasker met lussies
wat om jou ore vou.
Dit is nie altyd maklik nie
Dit laat jou bril toewasem.
En as jy knoffelpizza eet
ruik jy jou eie asem.
Soms voel dit taai en sweterig,
soms bly die ding afgly,
en my boetie is bekommerd
dat hy bakore gaan kry.
Maar ek is mal oor my masker
al laat dit my soms jeuk.
Want ek kan heeltyd skelmpies
vir ALMAL tong uitsteek!
(Jaco Jacobs)
Reviews for Mal oor My Masker